Helde

Preek in VGK Maranata 2012-01-01 vanuit 1 Kronieke 11 verse 15-19.

Who is a hero?

Ek wil met julle praat oor drie helde. Jy het seker op skool hulle stories gehoor:

  1. Wolraad Woltemade, die ou man wat met sy perd mense van ‘n sinkende skip gaan red het;
  2. Racheltjie de Beer, wat haar boetie in ‘n miershoop aan die lewe gehou het;
  3. Dirkie Uys, wat geweier het om sy pa op die slagveld agter te laat en liewer saam met hom gesterf het.

Of nee, my preek gaan nie oor hulle nie. Ek noem hulle name net om jou te laat dink oor twee vrae:

  1. Wat is ‘n held? Wanneer kwalifiseer iemand vir dié naam?
  2. Wie is jou held? Op wie wil jy lyk in 2012? Jou idool.

Dit verskil natuurlik per persoon. Daar is ‘n  ou definisie van Jonathan Swift uit 1713:

Whoever excels in what we prize

appears a hero in our eyes

Jy moet excel – uitblink – in wat jy doen. Jy presteer bogemiddeld in what we prize – op ‘n gebied wat vir ons belangrik is.  Daarom sal medici Chris Barnard ‘n held noem. As jy mal oor krieket is, mag Marchant de Lange jou hero wees.  En polities gesien het Thuli Madonsela haar in 2011 heldhaftig gedra.

The Public Protector

Helde inspireer. Ons wil soos hulle wees. Dit is voorbeelde om na te volg.

Die woord van God vertel ons die storie van Dawid se drie helde. 1 Kronieke 11.

From hero to zero

Dit is vakansietyd. Ma is by die huis met die kinders. En sy geniet dit. Op die stoep sit sy onder die sambreel met koffie en beskuit en ‘n boek. Die kinders speel al te lekker.

Dan sê Ma: Sjoe, as daar nou iemand was wat vir my ‘n lekker roomys gaan koop …

Die kinders kyk mekaar aan. Hulle sê niks nie. Maar ewe later glip hulle by die hek uit om Checkers toe te gaan. Dit is gevaarlik: die winkel is oorkant ‘n besige pad. Maar hulle gee nie om nie. ‘n Roomys vir hulle ma!

Dit wys jou die kinders is lief vir Ma. Maar die moeder is baie onverantwoordelik! Sy bring haar kinders in gevaar vir ‘n gril.

1 Kronieke 11 wys jou hierdie manne is lief vir hulle koning. Maar Dawid is die vark in dié verhaal.

Dit is oorlogstyd. Dawid is in die grot van Adullam. Hy kan nie huistoe gaan nie. Want Betlehem is deur die Filistyne ingeneem. En dis nie alles nie. Die Spooklaagte – die area tussen Adullam en Betlehem – krioel van die vyande.

Die volk van God is in ‘n krisis.

Maar die volk se leier dink net aan homself.

Die koning sit daar en sug: “Ek is dors. Ag, as iemand my tog net die lekker water uit die put by Betlehem se poort kon laat drink! As kind het ek dit al te lekker gevind …”

Die 3 manne kyk mekaar aan. Hulle sê niks nie. Maar ewe later glip hulle by die grot uit om soontoe te gaan.

Dit sê iets oor hulle. Maar kyk eers na die koning. Wat baie onverantwoordelik is en die lewe van sy manne in gevaar stel vir ‘n gril. From hero to zero.

Dit is die selfde Dawid wat later opnuut een van sy helde opoffer vir sy luste. Die naam is in vers 41: Urija die Hetiet.

Ek kom nog op Dawid terug. Kom ons fokus nou op die drie helde.

At your service

Ma is verras toe die kinders voor haar staan met ‘n groot roomys. “Daar’s hy, vir Ma!”

Dawid se manne wys hulle heldemoed. Om dwarsdeur die vyandelike verdediging te breek. Om water te skep uit die bron by Betlehem se poort. “Daar’s hy, boss!”

Meer nog as hulle moed, tref ons dié drie se lojaliteit.  Hulle liefde vir koning Dawid.

Die koning hoef maar ‘n sug te slaak … daar gaat hulle. Betlehem toe. Filistyne ofte not. At your service!

Sien die Here dit ook by jou?

Tot Dienst Bereid

Volstrekte gehoorsaamheid. “Here, wat wil U hê moet ek doen? (Hd 9:6). Dit is in die lewe my enigste doel: Laat u wil geskied.”

Dit is ‘n mindset, ‘n lewenshouding:

  • Luister aandagtig na jou koning. Bly besig om die bybel te lees in 2012.
  • Maak dit jou nommer een target. Jou nuwejaarsresolusie. Om in onverdeelde lojaliteit jouself aan hom te gee.

Gehoorsaamheid uit liefde.

Dan is jy ‘n held. Dalk nie in mense se oë nie. Hulle kyk eerder na ander dinge. Prestasies op skool. Uitblink in sport. Baie geld maak. – Maar God kyk met welgevalle na jou. Omdat jy uitblink in geloof en gehoorsaamheid.

Dawid is geraak deur sy helde se trou. Dit tref hom diep. So bly is Christus met jou.

From zero to hero

Dit is Moedersdag. Die dogtertjie kom tuis met ‘n present vir haar ma. ‘n Koffiekoppie met die opskrif: Liefste ma in Suid-Afrika.  Self gebak en self geverf op skool. Watter pragtige geskenk!

En wat doen die ma? Sy pak dié koppie en gooi dit stukkend op die grond …

Is dit nie wat Dawid hier doen nie? Lees weer verse 18 en 19:

Toe het die drie deur die laer van die Filistyne gebreek en water geskep uit die put van Betlehem wat by die poort was, en dit gedra en na Dawid gebring; maar Dawid wou dit nie drink nie en het dit voor die HERE uitgegiet en gesê: Mag my God my bewaar, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed van hierdie manne drink? Met lewensgevaar, ja, met lewensgevaar het hulle dit gebring! En hy wou dit nie drink nie.

Dit lyk malligheid. ‘n Belediging vir Dawid se drie helde. Watse stupid reaksie is dit!

Maar dit is nie. Dit is ‘n koninklike gebaar.

Dit is Moedersdag. En Ma sê vir haar dogter: “Watter pragtige koffiekoppie. Jy het dit baie mooi gedoen. – My kind, Ma gaan dit nie vir koffiedrink gebruik nie. Dit is te kosbaar!”

Ma sit dié koppie op die rak sodat almal dit kan sien. Dit is my dogter se werk!

Kyk en luister so na Dawid.

  • Hy sê: Ek kan mos nie hierdie manne se bloed gaan drink nie! Hulle waag hulle lewe vir my deur Betlehem toe te gaan. Dié bottel is gevul met hulle bloed.
  • Dawid skrik agterna. Wat het ek gesê? Ek het met my soldate se lewe gespeel. Maar só wil ek geen koning wees nie!
  • Daarom giet hy dit uit voor die Here as ‘n offer. Soos Israel in die tempel gereeld ‘n drankoffer van wyn  moes bring. Alles wat jy eet en drink kom van die Here af. Om jou dank te wys offer jy dit aan hom.
  • Wie beskik oor dié helde se lewe? Nie ek nie, sê Dawid. Dit kom net aan God toe.
Plengoffer

Daarom noem ek dit ‘n koninklike gebaar. Jy sien Dawid hier op ‘n hoogtepunt.

Ander konings mag speel met die lewens van hulle soldate. Dis net kanonvleis. Wat maak dit uit hoeveel van hulle sneuwel? Dit gaan om die koning se eer! –

Maar dit is anders by die teokratiese koning wat namens God regeer. Dawid en sy geslag wys die vrederyk van God. Soos wat Psalm 72 dit besing:

Vir hul is daar by hom bevryding

uit alle nood en leed.

Dreig daar geweld van alle sye,

al gaan dit nog so hoog,

hul bloed, hul trane en hul lyding

is kosbaar in sy oog.

Dawid was swak toe hy uitroep: Ag, wie sal vir my water uit Betlehem se put bring …

Dawid was ‘n held toe hy weier om dit te drink. Die bloed van sy soldate …

Dawid was nie altyd ‘n held nie. Daar staan Urija se naam in vers 41 as ‘n aanklag …

He is my hero

Dit is wel duidelik. Dawid kan nie ons groot voorbeeld wees nie. Hy is en bly ‘n mens. –

Maar in Dawid herken ons iets van Jesus. Wat eeue later sou gebore word in die stad van Dawid (Lukas 2:4). Onthou wat sê die engel vir Maria (Lk 1:32-33):

… die Here God sal hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie …

Dié koning is my held.

Die magtigste man van die wêreld. Alles wat daar bestaan het deur hom tot stand gekom (Johannes 1:3).  Hy hoef net kik te sê en alles vlieg en hardloop vir hom (Psalm 33:9, sien Matteus 8:8).  –

En wat doen hy? Hy lê sy Godgelyke glorie af en verneder hom tot in die dood. Om ons te kom red (Filippense 2:6-8).

Dié koning drink nie sy onderdane se bloed nie. Hy eis nie as ‘n tiran hulle lewens op nie.

Dié koning is ‘n bloedskenker. Wat sy eie lewe gee vir sy volk.

Ja, hy sal die verstotelinge,

dié wat geen helper het –

die stilverloorne en geringe –

sal hy verhoor en red.


Kom ons eindig met die vraag waarmee die preek begin het. Wie is jou held? Op wie wil jy lyk in 2012? Jou idool.

Dan moet ek liewer nie so baie oor myself praat nie. Ek is ‘n mens soos Dawid. Of nog erger. Wie sê ek is heldhaftig?

Nie ek nie maar Christus leef in my.

Die heilige Gees het my in beslag geneem. Hy laat my in liefde ontbrand vir die groot koning. Jesus Christus die seun van Dawid.

Nou is daar net een ding wat ek wil. Ek wil hom volg. Ek wil aan hom gelyk word. Soos Jesus wees. In liefde. In selfverloëning.

Dit is my gebed vir 2012:

Gees van God wat lewend maak,

vul my meer en meer.

Gees van God wat lewend maak,

vorm my tot u eer.

Advertenties

Geef een reactie

Vul je gegevens in of klik op een icoon om in te loggen.

WordPress.com logo

Je reageert onder je WordPress.com account. Log uit / Bijwerken )

Twitter-afbeelding

Je reageert onder je Twitter account. Log uit / Bijwerken )

Facebook foto

Je reageert onder je Facebook account. Log uit / Bijwerken )

Google+ photo

Je reageert onder je Google+ account. Log uit / Bijwerken )

Verbinden met %s